Berig in Die Burger 8/12/06 : LAAT die ombudsman van Die Burger onmiddellik sy belange verklaar: ek is 'n fietsryer, hoewel nie kompeterend deur aan wedrenne soos die Argus-Pick 'n Pay of enige ander fietstoer deel te neem nie. Meer om die ouderdom af te weer deur drie keer per week die steil strate van Somerset-Wes aan te durf teen die hange van die Helderberg. Ek het al geval en my arm gebreek, maar nie omdat Deon Maas se Stigting vir die Uitwissing van Fietsryers (SUF) waaroor hy verlede week in By geskryf het ("Vat so, julle fascistiese fiets-twatte", 2 Desember, bl. 12), my as fascistiese fiets-twat van die pad af wou ry nie. Nou het Maas 'n stroom verontwaardigde en selfs woedende fietsryers die pen laat opneem het 'n groep fietsryers selfs 'n klag by die Suid-Afrikaanse persombudsman, mnr. Ed Linington, ingedien. (Lees 'n paar van die briewe en wat deur die nasionale redakteur van By, Liza Albrecht, m?re in di? bylae gepubliseer word.) Die briewe kom van die sirkulasiegebied van al drie die dagblaaie van Media24 wat By op Saterdag publiseer, Beeld, Die Burger en Volksblad. Die meeste besware van die fietsryers stem ongeveer ooreen met die volgende woorde van mnr. Buckley Gouws van Bellville. "Ek wil beswaar maak teen die absurde en beledigende artikel deur Deon Maas in By," skryf Gouws. "Ek kan nie aanvaar dat 'n redakteur kan toelaat dat sulke soort haatspraak-artikels gepubliseer kan word nie. "Dit is absoluut verregaande dat iemand so iets kan kwytraak en boonop nog daarmee kan wegkom. "As dit bedoel was as 'n humoristiese stukkie joernalistiek, dink ek mnr. Maas het 'n siek sin vir humor. "Daar sterf genoeg mense op ons paaie, ons het nie nodig dat koerante die omry van fietsryers aanhits nie." Gouws vra dat die koerante die eerbare ding moet doen en 'n verskoning plaas van Deon Maas aan die fietsryers van Suid-Afrika. Die redakteur van die uitgawe van By wat in Beeld, Die Burger se susterkoerant in die Noorde, verskyn, Andriette Stofberg, se reaksie, soos di? van Albrecht, som die redes vir die publikasie van Maas se rubriek goed op. "Natuurlik deel nie By of Beeld of ek of selfs Deon Maas sentimente soos dat fietsryers uitgewis moet word nie. Heelwat van Beeld se redaksielede is fietsryers en my eie kinders ry fiets," skryf Stofberg. "As u Maas se rubriek al lees van die begin af, sal u besef dat die rubriek satiries is - met ander woorde, hy neem gewoonlik 'n kwessie wat aktueel is en speel dan duiwelsadvokaat: hy oorbeklemtoon die kwessie deur dit vanuit 'n ekstreme, omstrede hoek te benader - juis sodat dit mense aan die dink en debatteer moet sit. "In hierdie geval het dit gegaan oor 'n berig wat Beeld (en ook Die Burger) verlede week gepubliseer het van fietsryers van 'n klub (wat die hele pad vol gery het) wat 'n motorryer agtervolg en aangerand het en sy motor beskadig het omdat hy dit durf waag het om vir hulle te toet om vir hom as mede-padgebruiker ruimte te gee om verby te kan steek. Die fietsryers se gedrag was uiteraard onaanvaarbaar. (Nes daardie vragmotorbestuurder se gedrag gister waaroor ons vandag berig, wat 'n fietsryer omgestamp het.) "Wat Maas gedoen het, is om motoriste se frustrasie uit te lig met fietsryers wat gou is om die vinger na hulle te wys, maar nie self hou by die padre?ls nie. Al is dit net 'n klein groepie fietsryers wat dit doen. Soos wat dit ook 'n klein groepie motoriste is wat soos daardie vragmotorbestuurder sal optree. Deur die rubriek s? te skryf, probeer Maas aantoon hoe gevaarlik hierdie frustrasie onder motoriste kan raak. DIT is wat 'n satire doen." Stofberg skryf dat Maas in sy doel geslaag het en dat dit juis blyk uit die reaksie op die rubriek. "Nie net uit die mense wat so kwaad raak dat hulle briewe daaroor skryf nie, maar elkeen van ons motorryers wat al so woedend vir fietsryers geword het dat hulle nare gedagtes gekoester het (wat hulle waarskynlik nooit sal erken nie en ook nooit hardop sal uitspreek nie). Maas doen die onaanvaarbare: hy spreek hierdie gedagtes hardop uit - sodat mense kan besef hoe onaanvaarbaar dit is." Linington het in 'n kort antwoord die klaers se klagte van die hand gewys en skryf "lesers (sal) dit verstaan as 'n satiriese artikel oor padveiligheid en fietsryers en nie as aanhitsing tot uitwissing van fietsryers nie." Hy wys daarop dat Maas se vermelding van "die launch van SUF" nie buite die perke van vryheid van spraak in die Grondwet is nie, maar dat hy van mening is die koerante (Beeld in hierdie geval) moet die reaksie van fietsryers publiseer deur 'n seleksie van die klaers se briewe te plaas. Ek moet benadruk dat Maas se rubriek, waarin hy ook m?re in By op die reaksie van fietsryers antwoord, inderdaad satire is. Die woordeboekdefinisie van satire is: "1. Hekelende dig- of prosawerk. 2. Literatuur v.d. soort. 3. Iets anders wat skerp, hekelend spot m.d. lewe, bv. skilderye, tekeninge, rolprente. 4. Spotvers, skimpdig, hekeldig." (Pharos se aanlyn-verklarende woordeboek.) 'n Rubriek is, anders as feitelike nuusversl*ggewing, maatskaplike kommentaar. Van Homerus se Odusseia tot Swift se Gulliver's Travels tot Etienne Leroux se Magersfontein, o Magersfontein! is satire een van die belangrikste vorms waarmee die samelewing se onhebbelikhede ontbloot kan word. En nee, ek kyk nie skielik oor my skouer om die SUF se aanvalle op my fiets en lyf te vermy nie! Humor kom inderdaad in verskillende gedaantes voor.