Sorry , couldnt find the English version in Fin24 The Culprets must display on posters at Their bussiness that they are GUILTY OFF PRICE FIXING ! Skuldige fietswinkels moet bieg oor pryse Pretoria. – Die fietswinkels en -groothandelaars wat met die Mededingingskommissie skik in ’n kartelsaak, moet plakkate by hul ondernemings aanbring waarin hulle erken dat hulle skuldig is aan prysvasstelling en voortaan aan die bepalinge van die Wet op Mededinging sal voldoen. Dit was die voorstel van Norman Manoim, voorsitter van die Mededingingstribunaal, gister in die skikkingsverhoor. Die vyf ondernemings, Dunkeld Cycles, Bowman Cycles en West Rand Cycles en die groothandelaars New Just Fun Group en Cytek Cycle Distributors, was volgens die kommissie betrokke by ’n vergadering in 2008 waarop verskaffers van fietse, bykomstighede en gesondheidsprodukte die groothandelpryse en winsgrense daarop bespreek het. Die kommissie het in 2009 ondersoek ingestel na die moontlikheid van kartelbedrywighede nadat hy ’n anonieme wenk, ’n klagte van Yellow Saddle Cycling en verskeie erkennings van respondente ontvang het. In Junie 2010 het hy sy bevindinge na die tribunaal verwys en ’n administratiewe boete vir 28 ondernemings van 10% van hul omset vir 2008 aanbeveel. Die saak is in Junie 2011 onttrek nadat verskeie respondente op tegniese gronde besware geopper het. Die kommissie moes sy ondersoek van voor af begin en het dié keer ’n skikkingsooreenkoms met die vyf ondernemings bereik. Hiervolgens sal hulle ten volle met die kommissie saamwerk in die vervolging van die res van die respondente in die saak. Manoim wou weet waarom die vyf ondernemings nie ’n administratiewe boete opgelê is nie. Die kommissie het verduidelik dat so ’n boete die voortbestaan van die ondernemings sal bedreig. Van hulle is klein met net een eienaar en dit sal dus ook tot werkverliese lei. Manoim sê die saak het wyd publisiteit gekry wat die bedryf skade berokken. Om vertroue in die bedryf te herstel, het hy voorgestel dat die ondernemings die plakkate aanbring. Die kommissie se kontakbesonderhede moet daarop verskyn sodat klante hom in kennis kan stel as hulle vermoed die onderneming voldoen nie aan die vereistes van die wet nie. Dié voorstel moet as aanhangsel by die oorspronklike ooreenkoms tussen die kommissie en die respondente gevoeg word. Die bewoording en die tydsduur vir die vertoning van die plakkate is nog nie bekend nie.