Hi all! Please go and leave a comment if you can and help save the velodrome! Olimpiese baanfietsry-drome in gevaar deur Sportliefhebber 2012-08-31 06:00 Die toekoms van die fietsrystadion in Bellville, wat die enigste fietsrybaan van internasionale standaard in Afrika bevat, blyk gedoem te wees. Die Stad Kaapstad het ’n tender toegeken vir die herontwikkeling daarvan, wat ’n hotel en sake-ondernemings insluit. Dit sal die dood beteken van baanfietsry, nie net in die Wes-Kaap nie, maar in die land. Die Suid-Afrikaner Bernard Esterhuizen, ’n 19-jarige voormalige wêreldkampioen, het op die Olimpiese Spele ’n ongelooflike 11de plek in dié naelrynommer behaal – teen formidabele en veel ouer en meer ervare teenstanders. Ons het die talent, maar die verdere ontwikkeling daarvan is gesetel in die voortbestaan van die fietsrystadion. Veral in die Wes-Kaap is ’n hele paar aanspraakmakers op ’n plek in die baanfietsryspan vir die Olimpiese Spele in Rio de Janeiro in 2016, asook die Statebondspele in 2014. Hulle oefen daagliks in Bellville, op die enigste baan in die Wes-Kaap. Dit is atlete sonder professionele borgskappe wie se ouers hulle grootliks borg, wat ’n beroep op die lange baan geskuif het vir die groot Olimpiese droom. Ook ons Paralimpiese deelnemers soos Roxy Burns oefen hier. Waar gaan hulle oefen as daar nie meer ’n fietsrystadion is nie? Die baan word gebruik deur oorsese spanne wat hier kom oefen, soos die Duitse Olimpiese span, wat in Londen met talle medaljes weggestap het. Die breë gemeenskap gebruik die stadion gereeld vir sport en ontspannings, aangesien dit die enigste groot binnenshuise fasiliteit in die noordelike voorstede is. Die laaste paar maande is verskeie kere probeer om die Stad Kaapstad tot ander insigte te bring, maar dit lyk of die besluit geneem is. Saskok en Suid-Afrika soek medaljes, en Fietsry Suid-Afrika het onderneem om die getal ryers op die volgende Olimpiese Spele van vanjaar se 9 na 18 te verdubbel. Hoe kan ons dan bekostig om so ’n gerief tot niet te laat gaan, en dit ter wille van nog sake-ondernemings? Is die Stad Kaapstad dit nie aan Suid-Afrika verskuldig om sy bes te doen om die stadion vir baanfietsry behoue te laat bly nie? Vir al hierdie fietsryers is hul Olimpiese droom verydel; maar die grootste jammerte is dat die jeug van môre nie eens die kans gegun gaan word om die wonder van baanfietsry in sy land te ervaar nie. Met vanjaar se Olimpiese en Paralimpiese Spele is dit weer eens duidelik hoeveel nasietrots in ons land is en hoe sport ons verenig. Ons het die atlete. Help ons met die geriewe! Sportliefhebber Brackenfell http://www.dieburger.com/MyDieBurger/Briewe/Olimpiese-baanfietsry-drome-in-gevaar-20120831