’n Mediese dokter van Secunda moes Dinsdagmiddag toekyk hoe sy enigste dogter op haar fiets doodgery word in wat beskou is as ’n onwettige straatresies. Me. Christelle Swanepoel (26) se man, Richard (26), met wie sy nog maar sewe maande getroud was, is ook beseer en word in die hospitaal behandel. Dr. Johannes Welman het gister vertel hulle het die middag gaan fietsry toe ’n silwer BMW en ’n geel Uno in Oliver Thamborylaan afgejaag kom. “Ek wou oor die pad ry en het oor my skouer gekyk of daar motors aankom. Ek het in die verte twee motors gesien, maar hulle was ver genoeg vir ons om veilig die pad oor te steek. Skielik het ek ’n helse slag gehoor. Ek het gehoop die motors het mekaar getref.” Maar die bestuurder van die Uno het beheer oor sy motor verloor en oor Welman se dogter gerol. Sy is op slag dood. Swanepoel se man is ook raak gery, maar het slegs ligte beserings opgedoen. Me. Tina Moolman (22) het die hele ding sien gebeur en vertel sy meen die twee bestuurders het mekaar by ’n stopteken uitgedaag om resies te jaag. “Ek het gesien hoe hulle wegtrek en versnel en besef hier gaan iets leliks gebeur. “Die Uno het skielik remme aangeslaan, die man het beheer oor die motor verloor en dit het gerol.” Volgens Moolman het die bestuurder van die BMW weggery, maar is later deur die polisie opgespoor. Die polisie het bevestig dat albei die bestuurders, mnre. Wesley Prabeï (25) en Albertus Joubert (31), in hegtenis geneem en later op borgtog van R5 000 elk vrygelaat is. ’n Saak van moord, strafbare manslag en roekelose bestuur word teen albei ondersoek. Ao. Magda Calitz van die polisie vertel een van die bestuurders se pa het gehuil toe hy sy seun se borgtog by die polisiekantoor betaal het. “Hy het gesê hy het sy seun al herhaaldelik gewaarsku om stadiger te ry, maar hy het hom nie daaraan gesteur nie.” Calitz het daarop gewys dat straatversnelrenne ’n algemene tendens in die dorp is. “Daar is honderde kruise langs die strate van Secunda, maar die mense wil nie leer nie.” Welman het gistermiddag laat in trane aan Beeld vertel sy dogter en haar man het vroeër die dag aan hom ’n woonstel gaan wys waarin hulle belang gestel het. Richard is ’n ingenieur en werk vir Sasol. Hy het begin huil toe hy vertel hoe lief sy dogter vir die natuur was. “Sy was fantasties en sy het voluit geleef. Sy en Richard was maar sewe maande getroud.” Sy word ook oorleef deur haar ma, Christa, wat in Johannesburg woon, en twee broers, Theunis (27) en Johannes (22).